1 Chronicles 17
1 Toe Dawid in sy huis gevestig was, het hy vir die profeet Natan gesê: “Kyk, ek woon in 'n huis van sederhout, maar die verbondsark van die Here staan onder tentdoeke.”
2 Daarop het Natan vir Dawid gesê: “Alles wat u in gedagte het, doen dit, want God is met u.”
3 Maar in daardie nag het dit gebeur – die woord van God het tot Natan gekom:
4 “ Gaan sê vir Dawid, my dienskneg, ‘So sê die Here: “Dit is nie jy wat vir my 'n huis sal bou om in te woon nie.
5 Ek het, vanaf die dag dat Ek Israel laat optrek het uit Egipte tot vandag toe, mos nie in 'n huis gewoon nie. Ek was van die een tent na die ander, van die een woonplek na die ander.
6 Het Ek ooit, oral waar Ek in die hele Israel rondgetrek het, met een van die rigters van Israel wat Ek aangestel het om my volk op te pas, die saak aangeroer en gesê, ‘Waarom het julle nie vir My 'n huis van sederhout gebou nie?’
7 Daarom, so moet jy sê vir my dienskneg, vir Dawid, “ ‘So sê die Here, Heerser oor alle magte: “Ek is die Een wat jou uit die weiveld agter die kleinvee weggeneem het om 'n leier te wees oor my volk Israel.
8 Ek was met jou oral waar jy gegaan het, en Ek het al jou vyande voor jou uitgeroei. Ek sal vir jou 'n naam maak soos die naam van die grotes wat op aarde is.
9 Ek sal vir my volk Israel, 'n plek aanwys; Ek sal hom plant, en hy sal op sy plek woon en nie weer beef van angs nie. Skurke sal hom nie meer verdruk soos vroeër nie,
10 soos van die tyd af dat Ek rigters oor my volk Israel aangestel het. Ek sal al jou vyande verneder. Ek maak aan jou bekend dat die Here 'n huis vir jou sal oprig.
11 Wanneer jou tyd aangebreek het om na jou voorvaders te gaan, sal Ek jou nakomeling ná jou, een van jou eie seuns, na vore laat tree, en Ek sal sy koningskap vestig.
12 Hy is die een wat vir My 'n huis sal bou, en Ek sal sy troon vir altyd laat vasstaan.
13 Ek sal vir hom 'n vader wees, en hy sal vir My 'n seun wees. My troue liefde sal Ek nie aan hom onttrek soos wat Ek dit aan jou voorganger onttrek het nie.
14 Ek sal hom vir altyd in my huis en koninkryk aanstel, en sy troon sal altyd bestendig wees.” ’ ”
15 Ooreenkomstig al hierdie woorde en hierdie hele onthulling, presies so het Natan die boodskap aan Dawid oorgedra.
16 Koning Dawid het toe ingegaan en voor die Here gaan sit. Hy het gesê: “Wie is ek, Here God; en wie is my huis dat U my tot hier gebring het?
17 En asof dit nie genoeg is in u oë nie, o God, het U ook oor die huis van u dienskneg gepraat, tot in die verre toekoms; ja, U het my vorentoe gesien as 'n dinastie, Here God.
18 Maar wat kan Dawid verder vir U sê oor die eerbewys aan u dienskneg? U ken self u dienskneg.
19 Here, ter wille van u dienskneg, en volgens u wil het U hierdie hele groot saak uitgevoer, om so al die grootse dade bekend te maak.
20 Here, daar is niemand soos U nie. Daar is geen God behalwe U nie, volgens alles wat ons met ons eie ore gehoor het.
21 En wie is soos u volk Israel – die enigste nasie op aarde van wie dit geld dat God gegaan het om hulle vir Homself vry te koop as 'n volk, en om vir U naam te maak deur grootse en wonderlike dade, om nasies te verdryf voor u volk wat U uit Egipte vrygekoop het?
22 U het u volk Israel vir U as 'n volk bestem vir altyd, en U, Here, het hulle God geword.
23 Here, doen dan nou die woord gestand wat U gespreek het oor u dienskneg en sy huis, laat dit altyd vasstaan. Doen wat U gesê het,
24 sodat dit sal vasstaan, en u Naam vir ewig groot sal wees, en daar gesê sal word, ‘die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel, is God vir Israel,’ en sodat die huis van u dienskneg Dawid bestendig sal wees voor U.
25 Want U, my God, het aan u dienskneg geopenbaar dat U vir hom 'n huis sal bou. Daarom het u dienskneg dit moontlik gevind om voor U te bid.
26 En nou, Here, U is God; U het hierdie goeie woord oor u dienaar uitgespreek.
27 U het nou besluit om die huis van u dienskneg te seën sodat dit vir altyd voor U sal wees. Omdat U, Here, dit geseën het, is dit vir altyd geseën.”